Koeberg
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Koeberg in die provinsie Wes-Kaap (Republiek van Suid-Afrika) is die eerste en enigste kernkragsentrale op die vasteland van Afrika, wat op 15 Maart 1984 sy kritiese fase bereik. Op 4 April van dieselfde jaar begin die kernreaktor vir die eerste keer elektrisiteit opwek, gevolg deur die tweede reaktor op 25 Julie 1985.
Koeberg beskik oor twee turbogenerators van 921 megawatt elk, wat tot die grootstes in die Suidelike Halfrond behoort.
[wysig] Geskiedenis
Die Suid-Afrikaanse Elektrisiteitsvoorsieningskommissie (Eskom) koop reeds in Mei 1971 die plaas Duynefontein, sowat 28 km noord van Kaapstad, wat as geskik vir die oprigting van 'n kernkragsentrale geag word. Seewater van die Atlantiese Oseaan kan hier vir verkoeling gebruik word, wat groot hoeveelhede vars water bespaar. Die knellende tekort aan water, wat deur droogtes versterk word, maak binnelandse steenkoolsentrales met hulle groot behoeftes aan verkoelingswater minder aantreklik, alhoewel Suid-Afrika oor groot afsettings van steenkool beskik. Met die oprigting van Koeberg word die Kaap minder afhanklik van die Transvaalse steenkoolsentrales, wat in 1983 in naastenby 90 persent van sy kragbehoeftes voorsien.
Maar eers met die begin van die oliekrisis in 1973, wat op die Jom Kippoer-oorlog in Oktober van dieselfde jaar volg, word die projek van 'n Suid-Afrikaanse kernkragsentrale lewensvatbaar. Suid-Afrika ly onder die boikot van Arabiese state wat weier om ru-olie direk na die land uit te voer. Die RSA is in dié tyd gedwing om olie teen hoër pryse op die vrye mark te koop. Tegelykertyd pleit Eskom daarvoor om die steenkoolreserwes van die land eerder vir die bestaande kragsentrales, die SASOL-projek en vir die uitvoer na oorsese lande te gebruik.
Suid-Afrika beoog eers om 'n Switsers-Nederlandse aanbod vir die oprigting van 'n kernkragsentrale goed te keur, maar weens politieke drukgroepe in Nederland en hulle optrede teen Suid-Afrika word dié projek gestaak.
'n Frans-Belgiese konsortium van Framatome, Spie-Batignolles en Alsthom blyk meer betroubaar te wees. Die verdrag oor die Koeberg-projek word in Augustus 1976 in Johannesburg en Parys onderteken, en 'n tweesydige ooreenkoms tussen Frankryk en Suid-Afrika word in Oktober van dié jaar bereik. Die Franse beskik oor die grootste kapasiteit van kernkragsentrales in Europa en is soos België nie bereid om die handel met Suid-Afrika weens politieke geskille te laat vaar nie. Daarbenewens verskaf Franse banke 82 persent van die kapitaal wat vir die oprigting van Koeberg noodsaaklik is, terwyl Frankryk ook aanbied om Koeberg se kernafval te verwerk.
Die Frans-Belgiese reaktor is gebaseer op 'n Amerikaanse tipe drukwaterreaktor, wat oorspronklik deur die Amerikaanse maatskappy Westinghouse ontwerp is.
Ondanks tegniese probleme wat Eskom met die reaktors ondervind - hulle moes aanvanklik jaarliks afgeskakel word om kernbrandstof te kan herlaai - voorsien kernkrag in 1992 in naastenby 6 persent van Suid-Afrika se elektrisiteitsbehoeftes.
[wysig] Eksterne skakels
- Virtual Nuclear Tourist - meer inligting oor Koeberg (Engels)